Geestelike Raad (#3237)

*Wanneer julle ook al die raadskamer binnetree, sê hierdie gebed met 'n hart wat klop met liefde vir God en met 'n tong gelouter van alles behalwe aandenking aan Hom, sodat die Almagtige julle genadiglik mag help om die uiterste oorwinning te behaal:

O God, my God! Ons is dienaars van U wat met toewyding na U heilige Aangesig gekeer het, wat ons losgemaak het van alles behalwe U op hierdie glorieryke Dag. Ons het in hierdie geestelike raad saamgekom, verenig in ons beskouinge en gedagtes, met ons voornemens in ooreenstemming om U Woord onder die mensdom te verheerlik. O Here, onse God! Maak ons die tekens van U Goddelike Leiding, die Baniere van U verhewe Geloof onder die mensdom, dienaars van U magtige Verbond, o U ons Allerhoogste Here, openbaringe van U Goddelike Eenheid in U Abhá Koninkryk en skitterende sterre wat oor alle streke skyn. Here! Help ons om oseane te word wat dein met die golwe van U wonderbaarlike Genade, strome wat voortvloei van U allerheerlikste Hoogtes, goeie vrugte aan die Boom van U hemelse Saak, bome wat swaai in die winde van U Milddadigheid in U hemelse Wingerd. O God! Maak ons siele afhanklik van die Verse van U Goddelike Eenheid, ons harte opgeruim deur die uitstortings van U Genade, sodat ons ons mag verenig soos die branders van een see en kaan ineensmelt soos die strale van U glansende Lig; dat ons gedagtes, ons sienswyses, ons gevoelens soos een werklikheid mag word, wat die gees van eenheid oor die hele wêreld openbaar. U is die Genadige, die Goedertierende, die Skenker, die Almagtige, die Barmhartige, die Medelydende.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

Geestelike Raad (#3238)

*Gebed wat by die afsluiting van 'n vergadering van die Geestelike Raad behoort gesê te word.

O God! O God! Uit die ongesiene koninkryk van U eenheid, aanskou ons wat in hierdie geestelike vergadering versamel is, wat in U glo, vol vertroue in U tekens, ferm in U Verbond en Testament, aangetrek tot U, gloei met die vuur van U liefde en opreg in U Saak. Ons is dienaars in U wingerd, verspreiders van U godsdiens, toegewyde aanbidders van U gelaat, nederig teenoor U bemindes, gedwee voor U deur, en smeek U om ons in die bediening van U gekosenes te bevestig, om ons lendene in U diensbaarheid te versterk en ons nederige en vererende onderdane te maak wat met U gemeenskap hou.

O ons Here! Ons is swak, en U is die Magtige, die Kragtige. Ons is lewensloos, U is die groot lewegewende Gees. Ons is behoeftig, en U is die Onderhouer, die Kragtige.

O ons Here! Wend ons gesigte na U genadige gelaat, voed ons van U hemelse tafel met oorvloedige guns, help ons met die skares van U opperste engele en bevestig ons deur die heiliges van die Koninkryk van Abhá.

Voorwaar, U is die Vrygewige, die Barmhartige, U is die Besitter van groot mildheid, en, voorwaar, U is die Genadige en die Goedgunstige.

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

